Die reis van Palmsondag tot Paassondag

by | Apr 8, 2022 | Nuus | 0 comments

10 April: Palmsondag
Oggenddiens: 09:00 (Kerksentrum & @Curro)
Aanddiens: 18:00
Versoek: Bring asseblief palmtakke/-blare

Jy word genooi om hierdie week saam op reis te gaan: van Palmsondag tot Paassondag. Ons gaan die kinders vra om daarmee die kerk binne te stap om ons te herinner aan Jesus se intog in Jerusalem terwyl die skare Hom met wuifende palmtakke besing het.

Indien julle beplan om die naweek weg te gaan, oorweeg dit om eers hierdie byeenkomste van Donderdagaand en Vrydagoggend by te woon voordat julle vertrek. Indien julle nie Sondag se Paasfees hier kan bywoon nie, vier gerus die opstanding van Jesus waar julle is. Maak die kinders deel van die vieringe deur aan hulle die opstandingsverhaal te vertel of uit die Bybel te lees. Gebruik gerus paaseiers om iets van die nuwe lewe wat Jesus se opstanding gee te verduidelik. Volg hierdie skakel vir ‘n heerlike gesinsaktiwiteit rondom die Groot Lydensweek.

Mag Groot Lydensweek en Paasfees 2022 ons herinner en innooi na eerlike besinning oor ons lewens en die ontdekking van nuwe kanse en nuwe lewe… ’n Oorgang van wanhoop na hoop, van doodloopstrate na nuwe geleenthede!

Stap die gebedslabirint

Vanaf Maandag tot Donderdag (sien tye by die program hieronder) word jy genooi om die gebedslaberint in die kerksentrum se voorportaal te kom stap. Reeds sedert die vroeë kerk is die laberint as metafoor vir die reis na Jerusalem gebruik – wat eintlik ’n metafoor vir die lewe is. Die Christelike lewe word dikwels as ’n reis saam met God beskryf. Op hierdie reis groei ons in ons verhouding met God en beweeg ons so nader aan God en terselfdertyd ook nader aan ons medemens. Soos die lewe, neem die laberint ons ook op draaie en swaaie wat ons nie kan voorspel nie, maar ons reis is altyd na die kern, waar ons God ontmoet. Op ons pad ontmoet ons ander mense en moet ons die ruimte met hulle deel, mekaar soms in die oë kyk, by mekaar verbystap. In die gebedslaberint word ons genooi om te wees, te vertoef en te beweeg – na binne en na buite. Ons sien jou graag daar!

Met ons Wit Donderdagdiens begin ons die Triduum wat eintlik van die drie byeenkomste, wat ook Goeie Vrydag en Paassondag insluit, een diens oor drie dae vorm. Jy word genooi om hierdie diens, wat ons na die nag voor Jesus se dood, in die bovertrek saam met sy dissipels neem, by te woon.

11 tot 15 April: Groot Lydensweek

Gebedslaberint:
Maandag, Dinsdag, Donderdag:

08:00 tot 14:00 & 18:30 tot 20:00
Woensdag: 18:30 tot 20:00

Wit Donderdag- & Tenebrae-diens:
Donderdag: 19:00 by kerk

15 April: Goeie Vrydagdiens & Nagmaal:
Vrydag: 09:00 (Kerksentrum & @Curro)

17 April: Paasfees
Sondag: 09:00 (Kerksentrum & @Curro)

Nuus

0 Comments

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.