Die H2O Vrywilligers verleen hulp aan gemeentelede wat ouer as 60 is en keer dat hulle nie vereensaam nie. Vrywilligers gaan kuier by senior burgers om informeel te gesels en te hoor hoe dit met hulle gaan. Hulle maak ook seker dat die ouer gemeentelede weet by watter van Sonstraal-gemeente se aktiwiteite hulle betrokke kan raak.

‘n Maandelikse nuusbrief word uitgestuur na die ouer garde wat nie toegang tot selfone of sosiale media het nie. Die nuusbrief is ‘n verkorte weergawe van die weeklikse Sonstraal-gemeente nuusbrief, Kontak, wat op die kerk se webwerf verskyn. Die H2O nuusbrief word by senior burgers afgelaai wat op hoogte wil bly van die aktiwiteite wat die gemeente weekliks aanbied.

Klankboodskappe word ook saamgestel wat per WhatsApp versprei word na persone wat nie meer eredienste of aanlyn-eredienste kan bywoon nie. Dit is kort agt tot 10 minute klankgrepe wat deur dominee Johan Conradie opgestel word.

Indien jy sou belangstel om saam te gaan kuier, aflewerings te doen of senior burgers wat nie vervoer het nie na byeenkomste te bring, kontak vir Elanda Louw by tel. 083 275 7139. Senior burgers wat ʼn behoefte aan een van dié dienste het, kan haar ook kontak.