Sonstraal Gemeente se vriendskap met Langa het in 2019 begin nadat ‘n groep lidmate daar besoek gaan aflê het. Hulle het Langa, Gugulethu, Robbeneiland en die Distrik Ses Museum onder leiding van die toergids, Odwa Futshane, besoek.

Aan die begin van die grendeltyd in Maart 2020 het lidmate besef dat ʼn voedselnood en basiese sorg in Langa kan ontstaan. Odwa, die toergids, se ma bestuur ʼn sorgsentrum vir kinders bekend as Vuka Nomtobhoyi wat ons gemeentelede aangegryp het. Sonstraal Gemeente het besluit om nie net die sentrum nie, maar ook na ander inwoners van Langa en ander gebiede waar die gemeente betrokke is, uit te reik.

‘n Noodfonds is gestig en Projek Betesda het ontstaan. Lidmate is versoek om geldbydraes, kos en klere te skenk. Binne weke is R100 000 ingesamel en kos en klere is weekliks by die kerksentrum afgelewer wat weer in Langa, Bottelary en by die Ruyterwacht Sorgsentrum uitgedeel is.

Sonstraal Gemeente se kerkraad het intussen besluit om die Langa Sorgsentrum ʼn amptelike projek van die gemeente te maak. Gesprekke is met owerhede en gemeenskapsleiers aan die gang om die sorgsentrum as ʼn kinderhuis te registreer en om die omstandighede daar te verbeter.

Vir meer inligting oor die projek, kontak vir Juané Schreuder by tel. 082 449 5401.