Wie is ons?

’n Gemeente wat geroep is om soos Jesus te leef

Sonstraal is ’n geloofsgemeenskap wat deur Jesus Christus aan God en mekaar gebind is. Dit is ’n band van liefde wat alles oortref en wat van God af kom. Dit is ’n liefde wat ons nie kan begryp, kan uitdink, of uit ons eie kan bewerkstellig nie. Dit is ’n liefde wat vir ons gewys word deur Jesus se liefde vir God se ganse skepping – een waarvoor Hy sou sterf. Al kan ons nie soos Jesus, volmaak liefhê nie, is dit hoe ons graag wil leef. Daarom reageer ons in alles wat ons is en doen op Jesus se opdrag om Hom te volg. Dit is ons eerste en grootste prioriteit: om te leer om soos Jesus te leef.

’n Gemeente wat saam leer en groei om soos Jesus te leef

Om soos Jesus te leef, kan ons nie op ons eie of in isolasie doen nie. Ons luister saam na die Here, met gelowiges in ons tyd, maar ook van ander tye, want ons groei nader aan die waarheid deur altyd weer in liefde saam te luister – wat tot dieper wysheid lei. Hierdie oortuiging lê in die hart van ons gereformeerde identiteit en daag ons uit om altyd dieper te soek na die Waarheid van God in Jesus Christus. In hierdie soeke is ons altyd geanker in die geloof dat verlossing uit genade alleen geskenk word, deur geloof alleen, wat ons werke of nakoming van wette uitsluit, en dat die Bybel ons in besonder help om God te leer ken.

By Sonstraal is almal welkom

Ons is ’n geloofsgemeenskap wat in God se gasvryheid geanker is. Daarom roep ons hardop uit: Almal is welkom! Op die voetspoor van Jesus is daar geen uitsondering aan gasvryheid, of grense aan die “almal” wat by ons welkom is nie. Lidmaatskap van die gemeente word nie volgens menslike maatstawwe, soos kulturele, ideologiese, sosiale of politieke oortuigings toegeken nie. Slegs deur die doop, wat God se oewerlose genade verkondig, word ons lidmate van die gemeente. Waar mense in ons wêreld, weens watter rede ookal, “uit”-voel of eensaam is, sal hulle altyd by Sonstraal welkom en veilig wees en in hulle volle menswees behoort. Ook jou ras, geslag of seksuele oriëntasie kan jou nie van lidmaatskap of enige van die ampte vervreem nie. As God jou insluit kan niemand jou uitsluit nie. Hierdie oortuiging is eerder ’n verdieping in God se liefde en roeping as om wêreldse standaarde na te volg.

#Leef om te dien

As gemeente weerspieël ons die liggaam van Christus waar elkeen onvervreembaar deel vorm van die liggaam. In hierdie eenheid, omarm ons diversiteit as God se gawe tot opbou van die gemeente en diens in die wêreld. Vandaar ons gemeente se leuse: Leef om te dien. Ons is elkeen onmisbaar om met ons unieke gawes diensbaar te leef. Christelike waardes van, onder andere, wedersydse respek, liefdevolle verbintenis, deernis, getrouheid en die gawe van die Gees (Gal. 5:22-26) lê ter grondslag hiervan.