Fisantekraal Centre for Development (FCD) help werklose mense om emosioneel, ekonomies, sosiaal en geestelik te ontwikkel. Hulle werk sluit aan by Sonstraal Gemeente se visie om werkloosheid in die Kaapse metropool en veral in kwesbare gemeenskappe aan te spreek.

Fisantekraal is ‘n vinnig groeiende gemeenskap op die drumpel van Durbanville, waar grootskaalse armoede, werkloosheid, gebrek aan vaardighede, onvoldoende behuising en ʼn tekort aan basiese dienste voorkom. Die program is oop vir almal met ‘n behoefte aan basiese vaardighede en word tans grotendeels deur vroue tussen 18 en 35 bygewoon.

Die volgende programme word aangebied: kantooradministrasie, ontvangs- en rekenaarvaardighede, lewensvaardighede, kliëntediens en kleinhandel, bak vir wins, versorging, besigheidsvaardighede, gasvryheid, huishoudkunde en Engels.

Meer as 2 300 werklose mense en hul afhanklikes het al sedert 2010 by die projek gebaat. Sewe programme word deur agt permanente personeellede, vyf administratiewe assistente en ongeveer 37 deeltydse kontrakteurs aangebied. 137 vrywilligers is ook by die projek betrokke.

Privaatinstansies waar studente werkservaring kan opdoen, het tot 130 gegroei, terwyl ons ook tans 73 skenkers het wat uit ‘n verskeidenheid besighede, trusts, kerke, organisasies en individue bestaan.

Indien jy belangstel om by die projek betrokke te raak, kontak vir Jane Gelderman by tel. 021 975 7764 of besoek hul webwerf – https://www.fisantekraal.org.za/

https://youtu.be/6LiZfntHGCo