ONS STORIE

Oorkoepelende roepingstelling
By Sonstraal Gemeente is almal welkom.
Hier leer ons saam om soos Jesus s te leef.  
#Leefomtedien
Ons slagspreuk herinner ons daaraan om elke dag, oral waar ons gaan, soos Jesus te lewe en om sodoende ‘n vreugdevolle en sinvolle bestaan te hê.

Sonstraalgemeente het op 24 Mei 1987 van die NG Kerk Durbanville Moedergemeente afgestig. Aanvanklik is eredienste in die saal van Laerskool Gene Louw gehou waarna die kerksentrum gebou is. Op 9 Februarie 1992 het die gemeente die kerksentrum betrek.

Op 1 September 2002 is ’n addisionele bedieningspunt in die Curro Privaatskool in Sonstraalhoogte begin waar parallelle eredienste gehou en kategese aangebied is. Hoewel daar twee bedieningspunte was, was ons een gemeente met een visie, een kerkraad, een predikantespan en een oorkoepelende bedieningsbenadering. Die Curro-bedieningspunt het op 1 Januarie 2025 weer met die kerksentrum saamgesmelt.

Die kerkraad het in 2019 ’n jaarlange geloofsonderskeidingsproses gevolg waaruit ’n nuwe roepingstelling, slagspreuk en bedieningsfokus gebore is (sien hieronder). Covid het toegeslaan en skielik moes die bediening op digitale platforms voortgesit word. Dit was ’n tyd van intense ontwrigting en nuwe leergeleenthede. Met ons terugkeer na die tydperk van isolasie het ons besef dat alles verander het. Ons erediensbywoning het drasties gedaal en so ook ons finansies. Die kerkraad moes leer om in ongekende tye die rigting te probeer raaksien waarheen die Here vir Sonstraal sou lei.

Weereens moes die kerkraad geloofsonderskeidend besin oor die gemeente se roeping en bedieningsplan. Die roepingstelling van 2019 is herbevestig as ons diepste oortuiging en roeping. Die uitdaging was om dit te vestig sodat elke lidmaat daaraan verbind sou wees en daaruit leef. Op praktiese vlak is daar besluit om te konsolideer: Die Curro-bedieningspunt is met die Kerksentrum geïntegreer. ’n Sterk fokus op kinderbediening is geïdentifiseer en baie moeite is gedoen om eenheid en sinergie te skep. Die kerkraad bevestig die belangrikheid van a) ’n Duidelike en helder visie of roeping vir die gemeente, b) Uitnemende en betekenisvolle eredienste en c) ’n Sterk en verenigde span.

Ons sal voortdurend werk om die gemeente se roeping op elke vlak duidelik te kommunikeer, sodat dit ‘n lewende, sigbare visie word. Die fokus van hierdie roeping is om saam te leer om soos Jesus te leef: Gasvry, met Genade en as Gestuurdes van vrede, vreugde en geregtigheid.

Prakties beteken dit die aanleer van die volgende gewoontes:

  1. Om tyd in die Woord te spandeer;
  2. Om tyd in gebed te spandeer;
  3. Om geduldig met mekaar te wees;
  4. Om met deernis en vergifnis na ander te kyk;
  5. Om dankbaar en tevrede te wees; en
  6. Om genoeg uit die gejaag weg te breek en stil te raak.

Met die tema “Oorvloed” is 2025 ’n nuwe begin vir Sonstraal. Die Here se troue sorg en voorsiening word op talle maniere aan ons bewys. Daarvoor is ons opreg dankbaar.

Roepingstelling: By Sonstraal is almal welkom. Hier leer ons saam om soos Jesus te leef.

Beliggaming van ons roeping deur: Genade, Gasvryheid en Gestuurdheid

Slagspreuk: Leef om te dien


Logo met slagspreuk
Die logo is ʼn kruis met verskeie dimensies, naamlik:

Die kruis as sentrale fokus: Christus staan sentraal as die rede en wyse van ons gemeente se bestaan. Ons vier die lewe van Jesus (2 Kor. 5:14 – 20; 3:18);

Die kruis as mens: Ons is elkeen in Christus opgeneem. Deur die kruis is Hy in ons en ons in Hom. Ons vier ons verlossing in Christus (Rom. 6:1-14);

Die kruis as gemeenskap: Ons is deur Christus aan mekaar verbind, al is ons verskillend. Ons vier ons diversiteit en eenheid in Christus (Rom. 12:3-8);

Die kruis as gerigtheid op die wêreld: Saam is ons op die wêreld rondom ons gerig om, soos Jesus, te dien. Ons vier die gawes wat die Here aan elkeen gegee het (Joh. 3:16-17; 20-21);

Die kruis as lewe: Skakerings van groen dui op die lewe en groei in Christus. Ons vier die werk van die Heilige Gees in ons lewens (Gal. 5:13-26);

Die kruis as egtheid: Die kruis vertoon gebroke en dui op ons gebrokenheid wat deur Christus se gebrokenheid heelgemaak word. Ons vier ons vryheid om mens te wees met die wete dat God se genade genoeg is vir ons (2 Kor. 5:6-15).