SENIOR JEUG

Ons senior jeug (Graad 7 tot Graad 11) se kategese-klasse vind plaas na die aanddiens.

Enige nuus oor kampe, uitreike, en kuier-geleenthede sal gekommunikeer word in ons kommunikasie nuusbrief, die Kontak wat weekliks uitgestuur word, sowel as op ons verskeie WhatsApp-kanale. Kontak gerus die kerkkantoor (021 976 1236 / kantoor@sonstraal.org.za) indien jy op hierdie kommunikasie-kanale bygevoeg wil word!

Tieners (Graad 7’s tot Graad 11’s)

Sontraalgemeente se tieners woon hoofsaaklik Sondae se aanddiens by om 18:00. Hierdie dienste is minder formeel as die oggenddienste en ouers word ook hartlik uitgenooi om dit by te woon. Ons glo dat jongmense ons toekoms is, daarom is die bou van verhoudings en ‘n gevoel van gemeenskap ‘n prioriteit in ons bediening aan hierdie besonderse groep. Ons kuier saam, kamp saam, lag saam, gaan saam op uitreike, en leer saam oor God. Na afloop van die aanddiens kom graadgroepe bymekaar in hul kategese groepe om saam te kuier, saam te praat oor geloof, en partykeer selfs om saam te worstel oor vrae wat ons mag hê oor ons geloof en die lewe. Ons nooi enige en alle jongmense uit om deel te word van hierdie gemeenskap – hier is álmal welkom.

Belydenisklas (Graad 11’s)

Ons as gemeente is diep bewus van die belangrike geloofsreis waardeur elke jongmens gaan tot en met die dag wat ‘n mens jou geloof bely voor die gemeente (en die reis ná dit!). Daarom nooi ons graag enige Graad 11’s om in te skakel by ons belydenisklas wat Sondagaande bymekaarkom na die aanddiens. Die belydenisjaar is propvol opwindende gesprekke, worstelinge met geloofsvrae, ‘n kamp, en geleenthede om saam te kuier en groei. In hierdie jaar ontdek ons wat dit is wat ons elkeen glo, hoekom ons dit glo, en waarom dit belangrik is om dit wat ons glo te bely. Elkeen se reis lyk anders, elkeen se redes lyk anders, en elkeen se storie lyk anders en ons vier hierdie diversiteit weekliks saam.

Tydens die jaar sal ouers en voogde genooi word om saam met die Graad 11’s na die kerk toe te kom vir ‘n geleentheid waar families saam kan praat oor hul geloof, hul eie reis tot belydenis van geloof, die geloofsreis wat voorlê na belydenis, en hoe die lewe ons geloof partykeer toets.

Matrieks (Graad 12’s)

Na afloop van hul belydenis van geloof in Graad 11, word jongmense belydende lidmate van Sonstraalgemeente. Ons is egter bewus dat Graad 12 ‘n uitdagende en stresvolle jaar is vir ons jongmense – rekordeksamens, eindeksamens, en die wêreld van werk en studies lê voor. Daarom nooi ons Matrikulante in die gemeente om steeds aanddiens toe te kom en na die tyd bymekaar te kom vir ‘n koppie koffie of tee met Ds Zandré Marais en ander jongmense in die gemeente. Tydens hierdie kuiertjie kom ons bymekaar in die kerksentrum om informeel saam te praat oor ons weke, dit wat ons laat stres oor die pad vorentoe, en enigiets anders wat hierdie jongmense op hul harte het. Die idee hiermee is dat die jongmense bepaal waaroor ons die aand gesels: of dit nou is oor watter Universiteite die beste koffiewinkels het of hoe om ons geloof prakties uit te leef in ons pad vorentoe – op kampus of in die werksplek.

Matrikulante word verder ook genooi om saam te kom op die gemeente se verskeie uitreik-geleenthede, sowel as ander kuier geleenthede wat gekommunikeer sal word in die eredienste en Kommunikasiebrief.

Studente en Jong Volwassenes

Ons as Sonstraalgemeente is bewus dat die gevoel van gemeenskap en bou van verhoudings van uiterste belang is vir ons studente en jong volwassenes. Ons nooi elkeen van hierdie jongmense uit om enige van ons eredienste by te woon op ‘n Sondag, of dit die meer formele oggenddiens is, of die meer informele aanddiens – waar jy ookal meer gemaklik voel! Verder is daar ook ‘n kleingroep wat weekliks ontmoet om saam te kuier, te gesels oor die Bybel, en mekaar te ondersteun deur die uitdagings van die lewe (en om die kuns te bemeester van lyk of jy weet wat jy doen wanneer jy “adult”). Kontak gerus vir Ds Zandré (072 110 1410 / zandre@sonstraal.org.za) indien jy belangstel om deel te word van hierdie gemeenskap.